Biegblok se storie
Vir die wat wonder of gewonder het:
HIER is die storie agter die storie van Biegblok.
Sterkte vir jou, my goeie, dierbare vriend Uno!
Filed under: Sommer net | 7 Comments »
Vir die wat wonder of gewonder het:
HIER is die storie agter die storie van Biegblok.
Sterkte vir jou, my goeie, dierbare vriend Uno!
Filed under: Sommer net | 7 Comments »
Optelwoorde
tussen dwaaldistels en doringspore
in die soekloop op die verwegpad
soos genadelig lê daar optelwoorde
wat ‘n wegloopsiel weer huistoe kan vat
optelwoorde
vir ‘n valkind
optelwoorde
wat verloormense vind
in die skaduweelaagtes
diep gaan haal
en huistoe bring
na die optelkraal
Opstaan
mag jy mooi wees as die lelik verby is
en sag kyk na elke harde tyd
mag jy bly wees as die huil verby is
en vrede hê na die stryd
verkeerde goed kom môre weer reg
en die wyn is soet na die bitter en sleg
mag jy opstaan as jy seer geval het
en jou vrae verdwyn as die antwoord kom
mag jy huistoe kom as jy klaar verdwaal het
en die winter los vir die son
en mag jy droom, mag jy ook vergeet
en op plekke woon wat van horisonne weet
jy kan opstaan as jy seer geval het
en jou vrae verdwyn as die antwoord kom
jy kan huistoe kom as jy klaar verdwaal het
en die winter los vir die son
Filed under: Sommer net | 13 Comments »
Doringrosie tag my om te skryf oor vlieg. Sy het nie voorwaardes gestel oor watse vlieg nie, so ek fantaseer bietjie en vertel julle van Baba Jaga, iemand uit Russiese volksverhale.
Baba Jaga is ‘n heks, ‘n towenares, ‘n wilde ou vrou uit die Slawiese mitologie. Sy is ook soms ‘n woudgees wat ander geeste lei.
Baba Jaga vlieg deur die lug op ‘n stamper, van ‘n vysel. Sy gebruik die stamper as ‘n roer en vee haar spore dood met ‘n besem gemaak van silwerberkehout. Sy bly in ‘n houthut wat kan rondbeweeg op dansende hoenderpote. Haar hut het geen vensters en deure nie. Baba Jaga self gebruik dikwels die skoorsteen om in en uit haar huis te vlieg.
Baba Jaga se houthut is omring deur ‘n heining met ‘n kopbeen op elke paal. Daar is gewoonlik een paal sonder ‘n kopbeen sodat daar plek is vir die kopbeen van die verhaal se held. Die voordeur se sleutelgat is ‘n mond vol skerp tande. In party volksverhale is die deur aan die ander kant van die hut en kan die held dit nie sien nie. Hy moet dan eers ‘n towerspreuk sê: “Hut, o hut, draai jou rug na die woud, jou voorkant na my.” So dwing hy die hut om om te draai en kan hy dan die deur sien.
In party volksverhale word Baba Jaga se huis verbind met drie ruiters: een in wit geklee op ‘n wit perd met ‘n wit tuig, (hy word Dag genoem); ‘n rooi ruiter (Son) en ‘n swart ruiter (Nag).
In haar huis werk onsigbare bediendes. As iemand haar na die ruiters vra, sal sy verduidelik, maar as iemand na die bediendes vra, kan sy hulle dalk doodmaak. Baba Jaga is soms ‘n goeie mens en soms ‘n slegte mens. In sekere stories help sy mense, in ander vang sy kinders en dreig om hulle op te eet. Dit is gewoonlik gevaarlik om haar hulp te vra. Sy glo mens moet behoorlik voorbereid wees, goeie maniere en ‘n reinheid van gees hê, anders raak sy baie kwaad.
In die volksverhaal Wasilissa die Mooie, kry ‘n meisie drie onmoontlike take wat sy moet uitvoer met die hulp van ‘n towerpop wat haar ma vir haar gegee het. Wasilissa word na Baba Jaga gestuur en word deur haar gevang, maar die heks se bediendes - ‘n kat, ‘n hond, ‘n hek en ‘n boom - help vir Wasilissa ontsnap omdat sy vriendelik was met hulle. Op die ou end word Baba Jaga in ‘n kraai verander, maar sy ontsnap weer en vlieg weg.
Baba Jaga verskil bietjie in Poolse volksverhale van die Russiese Baba Jaga. Haar huis het byvoorbeeld net een hoenderpoot. Slegte hekse wat in gemmerbroodhuise woon, word ook Baba Jaga genoem. Sy vlieg weer op ‘n mop rond met swart en rooi gestreepte klere.
In party verhale, soos Die Veer van Finist die Valk, ontmoet die held sommer drie Baba Jaga’s. Sulke getalle is gewoonlik ‘n goeie teken, omdat dit aan die prins raad of towergeskenke gee.
Baba Jaga se houthut sonder vensters en deure is moontlik die interpretasie van ‘n doodgewone boustyl wat gewild is onder nomadiese jagtervolke van Siberië. Dit word so gebou om voorrade te beskerm teen diere wanneer hulle vir lang tye van die huis af weg is. ‘n Houthut sonder vensters en deure word gebou op stutte gemaak van stompe van nabygeleë bome. Die stompe, met hul wortels, gee die indruk van “hoenderpote”.
Baba Jaga is ‘n gewilde karakter van Russiese rolprente en tekenprente. Georgi Milliar, ‘n manlike akteur, het Baba Jaga gespeel in verskeie rolprente van die 1930’s tot die 1960’s, onder meer in Wasilissa die Mooie, Ryp, Die nuwe Avonture van die Gestewelde Kat en ander. Hy het ook al Kosjtsjei, die Onsterflike gespeel.
Volgende keer as dit volmaan is, kyk mooi. Dalk sien jy Baba Jaga verby vlieg.
Bron: - Wikipedia
Filed under: Raak gelees | 13 Comments »
Dalk is dit die griepvirus. Ek stel my sulke klein, groen, harige, rondhardlopende klein trolle voor. Hulle steel my asem, maar ‘n rukkie voor hulle my suurstof begin steel het, het hulle al begin om my woorde te steel.
Sonkind het woorddroogte. Dis al ‘n rukkie. Eers wou ek dit nie aan myself erken nie. Ek het geglo ek verbeel my. More oggend as ek wakker word, sal ek sommer weer iets hê om oor te skryf. Of in die middag. Of in die aand.
Maar nee, my kop is plat, leeg, sonder woorde. So skoon soos ‘n nuwe aantekeningboek aan die begin van ‘n nuwe skooljaar. Ek speel met ander se woorde, maar my eie woorde is op AWOL.
Dis nie net my skryfwoorde wat opgedroog het nie, my praatwoorde is ook nie deesdae te baie nie. Dalk is dit die winter. Ek weet lankal ek moes eintlik ‘n hibernerende gedierte/gedoente gewees het, wat winters om kon slaap.
Ek het nie lus vir praat nie, ek het ook nie lus vir antwoord as daar met my gepraat word nie. Ek het ook nie lus vir mense om my nie. Ek IS nog lus vir skryf, dis net dat die woorde weg is. Dit loer vir my, terg my, en nes ek dink ek kan my hand daarop lê, dan verdwyn dit soos mis voor die son.
Jare terug het ek en my suster dowetaal met mekaar gepraat in die kerk. Ons het dit (vingertaal) geleer by ‘n dowe oom wat vriende was met my pa-hulle. Vir die res van ons jare daarna het ons so met mekaar gepraat, ook as ons wou skinder van iemand. Of iewers was waar ons nie hardop kon praat nie. Ons kon dit nogal vinnig doen en volsinne praat, sonder dat iemand wat horende is, ons gesprek sou kon volg.
My ma het haar soms gruwelik vererg vir ons, veral as sy ons aangepraat het oor iets en dan gesien het hoe sein ons vir mekaar. Nodeloos om te sê dat sy tog nooit die gesprek uit ons kon trek nie
Dalk is my woorde more of oormore terug, ek hoop! Maar vir nou dink ek dat ek vir my suster moet gaan kuier, waar ek in stilte kan sit en praat.
Filed under: Uit die hart | 16 Comments »